Die lewe is moeilik & Geloof
“Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle ‘n Joodse towenaar met die naam Barjesus teegekom het, wat voorgegee het dat hy ‘n profeet is. Hy was by die goewerneur, Sergius Paulus, wat ‘n vertandige man was. Die goewerneur het vir Barnabas en Saulus laat roep, want hy wou graag die woord van God hoor. Die towenaar, Elimas, soos hy in Grieks genoem is, het hulle egter teegestaan omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo. Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk en gese: `Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedreer! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son ‘n tyd lank nie sien nie.` Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei. Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword. [Handelinge 13 verse 6 – 12]
Ek en my vrou het op 18 November 2007 lede van die Baptiste kerk hier in Ashford geword. Die vers wat ek gekry het lees: “We walk by faith, not by sight” [2 Korinthiers 5:7].
Die Goewerneur het gelowig geword nadat hy gesien het. Vandag sien ons dinge gebeur as ons bid. Dit versterk ons geloof. Dit verhinder ‘n mens nie om van tyd tot tyd weer te twyfel nie. Ons en miskien julle ook gaan dikwels deur moeilike tye. Gedurende sulke tye moet ‘n mens besluite neem. Die besluite is dan soms reg en soms verkeerd. ‘n Mens kan ‘n besluit neem met of sonder God. As ‘n mens vol is van die Heilige Gees soos Saulus toe hy met Elimas gepraat sal ‘n mens die regte besluit neem. As ‘n mens wegbeweeg van God af en gestres raak oor ‘n mens se toekoms neem ‘n mens dikwels ‘n vinnige besluit sonder om eers vervul te raak met die Gees. Dan raak die sloot waarin jy beland net dieper en moeiliker om uit te klim. Vervul met die Heilige Gees beteken vir my dat ‘n mens dan in geloof ‘n besluit neem sonder om te sien waarheen ‘n mens oppad is. Ek was baie beindruk met ‘n propgram wat hierdie week op die TV gewys het oor bloeddiamante wat in Afrika ontgin word. De Beers het besluit om nie meer die diamante aan te koop nie. Nogtans werk daar mense op die myne omdat hulle geen ander werk het nie en hoop iemand koop die diamante by hulle. Die verslaggewer vra toe vir die een man waarom hy dan nog steeds diamante soek as hy dan nie geredelik ‘n koper sal kry vir die dimante nie. Die man se antwoord was dat hy daar sal werk totdat God hom ‘n ander werk gee. Hierdie mense kry baie min geld vir diamante as hulle wel ‘n koper kan kry. Die afgelope 5 jaar en 4 maande in die UK was ek langer as die helfte daarvan werkloos. Van al die dinge wat ek al in my lewe oorgekom het was hiedie tyd nie minder of meer moeilik as al die ander nie. Ek beny mense wat nie deur sulke tye in hulle lewe gegaan het nie. Baie egter deel sulke ervaringe en dan is daar natuurlik die man wat elke dag in die modder diamante delf. Dan besef ‘n mens natuurlik dat geloof is om in jou omstandighede elke dag na God te roep om sodoende met die Gees vervul te word . Omdat ons nie tyd of genoeg tyd maak vir God nie, raak hierdie moeilike tye nog moeiliker en die behoefte om uitkoms te sien natuurlik groter. Dit is hier waar ons ‘n wonderwerk soek maar waar ons nie sommer een gaan kry nie. Ons is nie Geesvervuld nie. Daarom is dit so belangrik dat ons weer Geesvervuld raak. Dit is in sulke tye dat die raad en hulp van ons medegelowiges ‘n baie belangrike rol speel. ‘n Gelowige huweliksmaat wat jou nood raaksien en raad gee is dan ‘n lewensredder. Partykeer gaan beide eggennote deur so ‘n donker tyd en het ‘n mens raad en ondersteuning nodig van ander. Dit is hier waar die area van hulp en ondersteuning grys raak vir baie mense omdat daardie ondersteuning, alhoewel miskien bereikbaar, om verskeie redes moelik is om te ontgin. Dit kan wees om redes soos mense wat mekaar nie goed genoeg ken nie, ouderdomsverskil, afstand, het self krisis, kompetisie ensovoorts. Dan raak die lewe moeilik want ‘n oplossing vir die probleem of probleme is dan moeiliker en lyk alles donkerder. Soos M. Scott Peck skryf in die boek “The Road Less Travelled” – “Life is difficult”