NUUSBRIEF UIT UK (43)
§ Seewalle: Sekere gebiede hier in Engeland het Seewalle wat die see uithou met hoogwater wat met sterk winde gepaard gaan. By Littlestone is daar ‘n 5 meter opening in die betonmuur. Die inwoners is bang dat hulle met ‘n storm sal wegspoel. Die huise is in ‘n area gebou wat 5 meter laer is as die hoogwatermerk. Vertoë is reeds gerig aan die “Environment Agency,” maar die het tot dusver glad nie daarop gereageer nie. Die Gebiedsvloede Bestuurder het die volgende gesê: “We are aware the boards are in poor condition, and are currently acquiring new timber which will be in place in a couple of weeks. However we don’t believe there is an imminent threat to safety – we keep a close monitor on tides and would obviously issue flood warnings if it was necessary.” Die probleem is dat teen daardie tyd ‘n klomp mense reeds verdrink het! Hout gaan ook nie help nie want dit is ‘n 5 meter betonmuur wat deur die “shingle” (klein klippies) weggedruk is. Baie strande hier het in plaas van wit fyn sand, klein klippies (shingle).
§ Internasionale Verfbal Kompetisie: Wie het al “Paintball” gespeel? Ek het al en is sommer vinnig “van kant” gemaak. Die Europese Kampioenskappe is verlede naweek in Ashford gehou. Ongeveer 700 deelnemers het deelgeneem. Verteenwoordigers van onder andere Rusland, Denemarke, Frankryk, Duitsland, Portugal en Swede het gekompeteer met die voorste Liga Spanne van die UK.
§ Britte in Frankryk: Ongeveer 500 000 Britte het reeds ‘n tweede huis in Frankryk gekoop. Huise was baie goedkoop in Frankryk maar het die laaste 12 maande met ongeveer 30% gestyg. Die “locals” (soos die geval ook in SA) kry swaar omdat buitelanders die plaaslike huispryse opjaag. Die Franse is egter bly oor die Britse “settlers” omdat hulle heelwat spandeer en die plaaslike ekonomie bevoordeel. Baie “dooie” Franse dorpe kry nou weer “lewe.” Veral die “pubs”! Ek en Karen kan ook dalk een van die dae in Frankryk bly en elke dag met die Eurostar inry.
§ UK Belasting: As jy ‘n lewenspolis het, sorg dat die polis in trust geskryf word vir ‘n begunstigde soos jou pa, ma, eggenoot of kind. Indien die polis nie in trust geskryf is nie, maar die opbrengs aan jou boedel uitbetaal word as jy sou doodgaan, kan jou boedel heelwat afstaan aan boedelbelasting. Ek en Karen is byvoorbeeld verseker vir £250 000. Jou boedel betaal 40% belasting vir enige bedrag meer as £255 000 as jy die emmer sou skop. As jou werkgewer ook nog £100 000 uitbetaal en jou hele boedel is se maar £400 000 werd gaan jou eksekuteur heelwat oorbetaal aan die Ontvanger. Maak byvoorbeeld jou seun of dogter die begunstigde. Hy of sy kry dan die £250 000 belastingvry en jou boedel betaal geen belasting as die res onder £255 000 is nie.
Opgestel deur Anthonie Van Bosch
Vervolg………………………later.